Die toerfiets, die baviaanskloof en 'n paar pelle
Jou pelle (wat die wêreld kén) voorspel erge warmte en groot droogte vir die Baviaanskloof vir Desember.
Maar dis al wanneer jy en jou pelle (wat nié die Baviaanskloof ken nie)‘n behoorlike vakansie kan inpas, en julle besluit om tóg maar (teen alle waarskuwings in) met julle fietse van Willowmore af Patensie toe te ry.
Een ou moet kos koop, ‘n ander het iets by die hotel vergeet en nog een moet iets aan sy fiets regmaak. Dis laterig Saterdagoggend as julle uiteindelik uit Willomore uit wegkom. Dis reeds lekker warm, die omgewing is Karoo-erig, en die swaargepakte fietse maak die bulte nie makliker nie.
Teen middagete begin julle ‘n koeltetjie soek, en na vele kilometers sien jy die eerste skaduwee. Die plaasbewoners is van Gauteng; hul het middel Desember daar ingetrek, reg om te begin boer. Baie vriendelik, gee koeldrank en piesangs en dan gaan parkeer julle die fietse onder hul enorme blokombome en maak middagete, slaap, lees en wag vir die ergste hitte om verby te gaan. Teen 4-uur is dit nog snikwarm, maar teen 5-uur kan jul nie langer wag nie en ry maar verder. Ná die oggend se bulte is die ses kilometer afdraend van die Nuwekloofpas heerlik! Die pragtige klippe, baie stroompies wat die pad kruis en skielike groenigheid laat jou gou besef jy’s nie meer in die Karoo nie.
Dis donker as julle by die Makedaatgrot se mense kom. Julle moet opsluit eers kuier en tuisgemaakte appelkoossap drink. Ná ‘n welverdiende braaivleisie gaan slaap julle maar so vuil-vuil: niemand is lus om die 2 km na die swemgat in die donker te stap/ry nie. Die Sondagoggend moet almal toe eers swemgat toe om darem te sien hoe dit lyk.
Die pad is redelik gelyk en word al hoe mooier. Die rivierkruisings is gewoonlik maklik, maar een of twee verskaf opwinding omdat hulle so diep is dat die ‘panniers’ (met jou droë klere, tent en slaapsak in) wil-wil natword.
Middagete onder bome: slaap, lees en swem in die rivier tot die temperature rybaar is. Koeldrank en vars skons met aarbeikonfyt en room by 'n teetuin 2 km (en nog 'n rivierkruising) van die pad af, en donker-aand (en ‘n lekker diep rivierkruising later) kom julle by Geelhoutbos aan.
Die Maandagoggend donker staan julle op om die Grasnekpas te ry voor dit te warm word. Bo-op die pas ontmoet julle ‘n fietsryer (sonder ‘n pakkaas op sy fiets) wat op Doodsklip kampeer. Hy draai om en ry saam met julle tot by Rooihoek, waar julle middagete eet en in die pragtige poel baljaar tot dit koel genoeg is om verder te ry. Die asemrowende afdraend van die pad af is nou ‘n steil bult terug, en die fiets se voorwiel wil-wil oplig. Terug op die R331 gaan dit nie veel beter nie: Die bult tussen Rooihoek en Doodsklip is steil en dis moeilik om ‘n fiets te beheer teen 3 km/h. ‘n Fiets met ‘n pakkaas op stoot nie maklik nie.
By Doodsklip aangekom, is daar nog genoeg daglig oor om die poele te verken. 'n Lieflike kampeerterrein.
Die res van die aand kuier julle by Hoffie (die oggend se fietsryer) se kampgeselskap en luister na stories oor die Kloof. Jy sal beslis later moet terugkom om die klowe en poele in die berge te verken.
Dinsdagoggend vroeg-vroeg pak julle Combrinck se berg. Dis gelukkig nie heeltemal so steil soos gisteraand se mense jou vertel het nie, en jy kry dit uitgetrap tot bo. Die afdraend maak die bult die moeite werd. Onder by die Kas eet julle ‘n laterige ontbyt, slaap en ry na middagete verder.
Die pad Patensie toe is bulterig en langerig, maar gelukkig is dit bewolk en nie so erg warm nie. Op Patensie aangekom, gaan koop julle tjips en koeldrank vir die Nuwejaar. Na ‘n baddery en etery is almal te vaak, en teen ½ 12 kan niemand meer hul oë oophou nie. Teen 12-uur gaan ‘n wekker of twee af en die Nuwe Jaar word gegroet en Nuwejaarsvoornemens gemaak: Om beslis weer na die Baviaanskloof terug te keer, om in die klowe te stap en in die bergpoele te swem, of sommer net rond te lê langs, of te roei op Doodsklip se water.
No comments:
Post a Comment